|
Die satelliethuise voorsien in die fisiese behoeftes van sewentig kinders met kos, klere en behuising. Die sewe satelliethuise
bestaan uit twee huise vir beide seuns en dogters, drie huise vir seuns en twee huise vir dogters. Ses kinders oor die ouderdom
van 18 is tans besig met tersiêre studies.
- Mediese dienste: Die onderskeie huiskomitees is deur professionele mense van die gemeenskap, wat gratis of teen 'n laer
tarief hulle dienste aanbied, ondersteun. Daar is ook gebruik gemaak van mediese dienste by die Helen Joseph en Raheema
Moosa hospitale. Vier kinders is gehospitaliseer, een vir 'n mangeloperasie. Sielkundige dienste is gelewer by die Raheema
Moosa en Tara hospitale. Private psigiaters en sielkundiges het na die kinders omgesien. Een kind het anti-retrovirale
medikasie ontvang. 'n Maatskaplike werker in privaatpraktyk was behulpsaam met terapeutiese sessies vir verskeie kinders in
die huise.
- Pastorale dienste: Ses huise was aktief betrokke by die plaaslike gemeentes van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, met
bywoning van dienste, Sondagskool en jeugaktiwiteite. Die kinders van die Youthspace-huis woon die kerkdienste van die
huisouers se gemeente by.
- Opvoedkundige dienste: Alle kinders het toegang tot opvoedkundige dienste. Vier kinders het vir die eerste keer 'n sekondêre
skool bygewoon. Een kind ontvang remediërende onderrig by die Lantern Skool en ses kinders het die SETA- geakkrediteerde
vaardigheidsopleiding by die Roodepark en Belvedere Skole bygewoon. Die ses tersiêre studente van die satelliethuise volg die
volgende kursusse: Joernalistiek en Media Diploma by Damelin College; Sportbestuur by die Universiteit van Johannesburg;
Diploma in Ontwerp by die Ontwerpskool; Multi-media Ontwerp by die Universiteit van Johannesburg; Verbruikerswetenskappe
by die Potchefstroomse Universiteit; BCom Menseverhoudinge by die Potchefstroomse Universiteit; Meestergraad in
Spelterapie ook by die Potchefstroomse Universiteit.
- Skolesport en kulturele aktiwiteite: Kinders het aan aktiwiteite soos rugby, krieket, hokkie, atletiek, swem en sokker
deelgeneem. Twee seuns is vir hulle onderskeie ouderdomsgroepe vir die Goue Leeus-rugbyspanne gekies, van wie een
as kaptein van die Onder-16 Goue Leeu-span gekies is. Drie kinders het aan hulle skool-revue deelgeneem. 25 kinders het
aan skooldebatte deelgeneem.
- Ontspanning- en vryetydsbesteding: Die huiskomitees, vrywilligers en vakansievriende van die satelliethuise was
behulpsaam met die reël van ontspanning- en vryetydsbesteding van die kinders. Verskeie uitstappies was gedurende die jaar
gereël. Hulle is byvoorbeeld na restaurante, kegebalspel (Ten Pin Bowling), die dieretuin, ysskaats, flieks, vertonings, die sirkus
en historiese plekke geneem. Naweekuitstappies is na verskillende oorde gereël. Die kinders van die Fontainebleau- satelliethuis het in Oktober 'n vakansie by die see deurgebring. Buitemuurse aktiwiteite, soos klavier- en danslesse, is deur
sommige kinders bygewoon.
- Vrywilligers: Komiteelede en vrywilligers het elke satelliethuis ondersteun. Hulle het gehelp met die finansiële behoeftes,
emosionele ondersteuning vir huisouers en kinders, leerling- en bestuurslisensies, tuiswerk en studies, vervoer na en van skole
en buitemuurse aktiwiteite, spesiale verjaarsdagvieringe, vakansieprogramme en toesighouding van kinders op uitstappies.
- Maatskaplike dienste: Aktiwiteite het onder andere ingesluit die inname van nuwe kinders (12); plasing van kinders (20);
voorbereiding van Individuele Ontwikkelingsplanne (20); samestelling van statutêre verslae (19); gasheer vir
gevallestudiekonferensies en ander multi-dissiplinêre spanvergaderings (29); lewensvaardigheidsprogramme vir groepe kinders
(2); terapie vir kinders (20); nuwe voogouerplasings (8). Dienste sluit ook in die oorplasing na spesialishuise op die Langlaagte
Kampus (8) en die hereniging met ouers (1). Tien kinders is ontslaan aangesien hulle hofbevele verstryk het met ouderdom
18 en 1 kind is in pleegsorg geplaas.
|